Saturday 8 February 2014

Is Goliat werklik die probleem



Is Goliat die werklike probleem?

En die Filistyne het hulle leër versamel vir die oorlog en bymekaargekom by Sogo wat aan Juda behoort, en laer opgeslaan tussen Sogo en Aséka in Efes-Dammim. Maar Saul en die manne van Israel het byeengekom en laer opgeslaan in die dal van die terpentynboom en hulle in slagorde teenoor die Filistyne opgestel. En die Filistyne het duskant teen die berg en die Israeliete oorkant teen die berg gestaan, sodat die dal tussen hulle in was. Toe kom daar ‘n baasvegter uit die laers van die Filistyne, met die naam van Góliat, uit Gat; sy hoogte was ses el en ‘n span. Daar was ‘n koperhelm op sy hoof, en hy het ‘n pantser van skubbe aangehad—die gewig van die pantser was vyf duisend sikkels koper— en skeenplate van koper was aan sy bene en ‘n koperlans tussen sy skouers. Die steel van sy spies was soos ‘n wewersbalk, en die lem van sy spies was van ses honderd sikkels yster, en die skilddraer het voor hom uit geloop. En hy het gaan staan en roep na die slagordes van Israel en vir hulle gesê: Waarom trek julle uit om jul in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn, en julle dienaars van Saul nie? Kies vir julle’n man uit, dat hy na my toe afkom. As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees; maar as ek hom oorwin en hom verslaan, moet julle ons slawe wees en ons dien. Verder sê die Filistyn: Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my ‘n man, dat ons saam kan veg. Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees.
(1Sa 17:1-11)

Wat is Israel se probleem, en hoe kan die volk die probleem oplos?  Daar het seker allerhande warm gesprekke op die markplein en in die stede geklink.  Nog warmer was seker die opinies en menings.
Wat is ons probleem vandag met die wêreld?  Vra vir `n teoloog en jy sal `n ander antwoord kry as wat die politici sal gee.  `n Sielkundige sal weer `n ander antwoord as `n ekonoom gee.  Vra vir Bill Gates, en hy sal waarskynlik sê dat die wêreld mee toegang tot rekenaars moet hê.
Terwyl Israel so besig is met hulle gesprekke en debate, verskyn Goliat skielik op die toneel.  Hierdie reuse Filistyn word die een probleem waarop die hele volk fokus.  Die tyd vir gesprekke en debatte is verby, ons grootste probleem is Goliat die Filistyn.
Vir 40 dae lank staan die Filistyn en verpes die volk van die Here.  “Kom veg met my.  Stuur `n man na my toe wat teen my kan kom veg.  Elke dag hoor die Israeliete die uittarting, die arrogante spottery.  Hulle word self op die heilige Sabbat uitgedaag.  “As iemand my kan verslaan, word ons julle slawe.  As ek die geveg wen, is julle ons slawe.”  En toe word Israel vir 40 dae lank slawe van hulle eie vrees.

“Ons het `n reuse probleem.  Goliat is omtrent 3 meter lank.  Sy harnas weeg omtrent 62-63kg. en kyk daai man se spies – so dik soos `n wewersbalk.  Die punt van die spies alleen weeg omtrent 7,5 kg.  Ons probleem het nog `n wapendraer ook wat voor hom uitloop.”
“Ha!  Kyk hoe word my lewe deur die klomp Israeliete bedreig.  My lewe is in gevaar...” Hoor u die sarkasme, die belediging, die vernedering van die volk van God in alle opsigte.
Daar sit die Israeliete in hulle kamp.  Een ding is seker, ons grootste probleem is Goliat.  Ons het hierdie een gemeenskaplike probleem, Goliat is jou probleem en hy is my probleem.  En skielik begin daar `n nuwe stryery, `n nuwe debat – hoe op aarde gaan ons ontslae raak van die probleem?

Bid hom weg.  Laat Samuel haal, sodat hy die probleem vir ons kan wegbid.  Kom ons kry `n klompie dapper manne bymekaar sodat ons die man in `n lokval kan inlei.  Miskien kan iemand op hom afsluip en hom met `n pyl skiet.  Ja, maar hy het `n harnas aan – vergaderings, komitees en debatte – parra parra parra.

Die eintlike werklike probleem.

Is Goliat werklik die probleem?  Is die probleem van die kerk werklik finansies, min invloed of wat ookal?  Die werklike probleem is baie baie groter as Goliat.  Waar is jou geloof in die Almagtige God?  Maar wat beteken dit om in God te glo?

Geloof is nie positiewe denke nie.  Ons kan nie net glo dat ons vir Goliat kan verslaan nie.  Visualiseer jou oorwinning oor Goliat...en as jou droom verby is dan staan Goliat nog daar in sy volle grootte en tart jou uit.  Kom ons psyche onsself op, sommer met trompoppies en allerhande strydkrete, totdat ons genoeg geloof het om die reus te verslaan.  As ons dit doen, sal ons `n krag in ons ontdek wat ons nie eens geweet het ons besit nie.  Ontdek jou “inner self” en presto – daar val Goliat.  Ek is nie `n positiewe denker nie, ek wil veel eerder `n gelowige wees.

Geloof beteken nie om in jouself te glo nie.  “Believe in youself” is die grootste gif wat in ons geloofslewe kan insluip want dit werk geloof in God teen.  geloof is nie `n positiewe manier van dink nie.  Nog minder is dit om maar net te aanvaar dat alles op die een of ander manier gaan uitwerk.
Geloof volgens die Bybel is `n baie presiese saak.  Dit beteken om God absoluut, onvoorwaardelik op Sy geopenbaarde Woord te neem.  Glo wat God aan jou geopenbaar het.
Maar wat van die reus wat hier voor ons staan?  Geloof werk immers in die praktyk.
Israel is hier reg langs die Jordaan, op die rand van die beloofde land.  God het ons mos uit Egipte verlos,  God het mos water en voedsel voorsien.  Ons klere en ons skoene het nie verslyt nie.  Ons is uiteindelik by die beloofde land – hoera!  Nou kan ons die land inneem.
En tog gebeur dinge so anders.  Hier is reuse in Kanaan, ons is nou diep, diep in die moeilikheid.  En eers 40 jaar later, nadat `n ongelowige geslag uitgesterf het, het Israel uiteindelik op God se beloftes vertrou.  Israel gaan Kanaan binne terwyl die reuse nog steeds daar is.  Hy het nie die reuse laat verdwyn nie.  Hierdie geslag wat nou die land ingaan sien egter kans vir die reuse.
Die Here het gesê dat ons Kanaan sal inneem.  Hy het gesê dat ons sal oorwin.  Die Here het nooit iets gesê van groot of klein vyande nie – Hy het gesê dat ons die vyand sal verslaan.  Hy het gesê dat ons meer as oorwinnaars in Christus Jesus onse Here is.
God het niks gesê van Goliat nie.  Die Israeliete krimp ineen van die vrees.  Tye het verander.  Die vorige dinge was so lank lank gelede.  Ons lees in 1 Samuel 14 dat Jonatan `n hele leërafdeling van die Filistyne verslaan het.  Dit was maar klompie jare voordat Goliat ou grootbek op die toneel verskyn het.  Waar is Jonatan nou?

In die aand sit die volk om die vuur en praat oor Goliat, maar hulle praat so min oor die lewende God.
Goliat sien Israel se ongeloof raak, terwyl Israel net vir Goliat raak sien.
Daniel Doriani se kommentaar op v8 “Am I not a pagan, God hating Philistine?  Then why won’t any of you men of the Living God fight me?  You must not really believe in Him at all!  In fact, you must believe a nine foot warrior is actually stronger than your living God, when it comes to the REAL battle”.

God gee in genade die oplossing vir Goliat.

Een dag, terwyl Goliat so besig is met sy spottery en uitdagings – juis op daardie presiese toevallige oomblik daag Dawid daar op.  Sy ore tuit en sy hart slaan aan die brand “Hoe durf hierdie Filistyn, hierdie heiden so met die Here spot?  Toevallig het God se oplossing op daardie presiese oomblik daar aangekom.
Daarop het Dawid die manne wat by hom staan, gevra en gesê: Wat sal met die man gebeur wat hierdie Filistyn verslaan en die smaad van Israel wegneem? Want wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag?
(1Sa 17:26)

En Dawid het aan Saul gesê: Laat die manne se moed tog nie ter wille van hom sink nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.
(1Sa 17:32)

Met `n slingervel en gladde klippies in sy hand loop Dawid vir Goliat tegemoet.  In sy hart brand die ywer vir God se eer en `n vaste vertroue in God en dat God `n Waarmaker van Sy eie Woord is.  Hy gaan in die krag van die Gees van God.  Dit is so briljant.  Skielik keer God die situasie om en spot met Goliat.  Die Here spot uit die hemel met die goddelose.

Saul en die ander manne sê Sjoe!  Dankie tog dit is nie een van ons wat die reus moet gaan face nie.  En die Here gebruik een gladde ronde klip om vir Goliat mee neer te vel.  Die Here lag vir die goddelose.  Dawid, `n klip en `n slingervel – God se instrumente  verslaan die reuse probleem.

Die lewende God is nog op die troon.  Sy beloftes staan nog steeds vas.  God het groot dinge vir die toekoms van Sy volk – Hy het `n verlosser vir Israel gestuur.
God het ook vir ons `n Verlosser gestuur wat die koninkryk van die duisternis oorwin het.  Hy doen dit deur `n kruisdood.  `n Joodse Rabbi sterf aan `n kruishout in smarte, pyn en ellende en vernietig daarmee die Satan en al sy bose magte.
Tog maak die kerk, die gelowiges nie `n groot impak op die wêreld nie.  Kan God weer vir die kerk `n John Knox stuur?  Kan God vir Suid-Afrika `n Billy Graham opwek wat die land kan omkeer?  Is dit moontlik dat God Pietersburg werklik kan verander?  Het die Here dit al in die verlede met stede en lande gedoen?

As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.
(2Kr 7:13-15)

Het God dit gesê?  Doen God wat Hy belowe het?
Die kerk het so dikwels min impak op die wêreld.  Maar die kerk het so dikwels min impak op haar eie lidmate.  Ons denke en filosofieë het so wêrelds geword.  Sonde word so maklik geïgnoreer dat iemand eendag tereg opgemerk het: “The Christians are many, but they are not much.”  Ons het so baie Goliatte voor ons.
Op klein dorpies en selfs in stede is daar so baie gemeentes wat hulle deure sluit.  Sekularisasie vernietig die kerk.  Die regering bedreig die kerk met sy beleid.  Is ons probleem Goliat of te min vertroue in God en Sy verlossende krag deur die Evangelie boodskap.
Werk God net in gunstige omstandighede, wanneer die klimaat reg is?

Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.
(Rom 1:16)

Glo ons werklik in God en in God se Woord?  Is die beloftes van die Here genuine?  Of probeer ons eers `n gunstige klimaat skep, sodat God kan werk?  Het ons Saul se harnas nodig om ons te beskerm, of sien ons kans om met die wapenrusting van God te veg?  Sien ons genuine kans om die Boodskap van `n gekruisigde Redder in `n donker wêreld in te gooi met `n slingervel en die krag van die Gees van God?

Is ons probleem Goliat, of is hy net die simptoon van `n dieper probleem?