Sunday 9 September 2012

Die Christen se wonderlike hoop wat in die hemel gebêre is



Die Christen se wonderlike hoop wat in die hemel gebêre is 1.
Paulus, ‘n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en die broeder Timótheüs, aan die heilige en gelowige broeders in Christus wat in Kolosse is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus! Ons dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid, omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en julle liefde tot al die heiliges, vanweë die hoop wat vir julle weggelê is in die hemele, waarvan julle vroeër gehoor het deur die woord van die waarheid van die evangelie, wat julle sowel as die hele wêreld bereik het; en dit dra vrug, net soos onder julle ook, van die dag af dat julle dit gehoor het en die genade van God in waarheid leer ken het; soos julle ook geleer het van Épafras, ons geliefde mededienskneg, wat ‘n getroue dienaar van Christus vir julle is, wat ook julle liefde in die Gees aan ons te kenne gegee het.
Kol 1:1-8

vanweë die hoop wat vir julle weggelê is in die hemele, waarvan julle vroeër gehoor het deur die woord van die waarheid van die evangelie,
Kol 1:5

Daar is 3 genadegawes (3 Goddelike geskenke aan ons) wat duidelik sigbaar in `n Christen se lewe moet wees...geloof, liefde en hoop.  Dit behoort so sigbaar te wees, dat vreemdelinge dit dadelik in ons lewens moet raaksien.  Dit moet so sigbaar wees, dat ander mense wat ons nog nooit ontmoet het nie, daarvan moet hoor.  Ons het gehoor van julle geloof, liefde en hoop.  Die mense het so baie oor julle geloof , liefde en hoop gepraat – dat dit tot ons ore gekom het.  Wat `n besondere manier van getuig.  Dat ander mense oor die gemeente in Kolosse praat.  Mag mense oor Houtkruis praat, sonder dat ons ooit sal bloos oor wat die mense van ons sê.
Geloof is die wortel van elke ander genadegawe.  Daarom moet ons elke dag bid: “Here versterk asseblief my geloof”  Ons moet strewe daarna om tot oorlopens toe gevul te wees met God se liefde.  Mag ons ook oorvloedig wees in ons hoop.  Mag ons hoop van so `n aard wees, dat dit ons reinig en voorberei vir ons erfenis in die hemel.  Laat geloof, liefde en hoop nie vreemd by ons wees nie, maar `n tuiste in ons harte maak.
Nie elke soort geloof, liefde en hoop is die ware Jakob nie.  Ons moenie dink dat elke stukkie glas wat ons sien is diamante nie.  Daar is vals geloof, vals liefde en vals hoop.
Ons geloof is in Jesus Christus die Seun van die lewende God.  Hy wat deur die wêreld verwerp word, `n struikelblok vir die ongelowige, Hy wie se lering vir die mense aanstoot en belediging is.  Ons vertroue is nie in onsself of menslike dinge nie, nie in die tradisies van ons voorouers nie, nie in die geleerdheid en wysheid van die slim mense nie – ons vertroue is in Jesus Christus alleen.
Christelike liefde is net so uniek aan die Here se koninkryk.  Hoe lief het ware Christene nie hulle medegelowiges nie.  Hoe brand ons liefde nie vir hulle wat vervolg, gespot en verdruk word terwille van hulle geloof nie
Hoe wonderlik is Christelike hoop nie.  Ons hoop is in die hemel weggelê, `n hoop wat vreemd aan hierdie wêreld is.  Hulle hoop dat die wêreld `n beter plek sal wees, more is dalk `n beter dag as vandag.  Hulle hoop op rykdom, roem, lang lewe, voorspoed, plesier, vrede in hulle huise, die wêreld se hele hoop is op die tydelike gerig.  Die Christen se hoop is anderkant die wolke, in die hemel weggelê vir ons.


Ons hoop is `n onuitspreeklik wonderlike hoop.
God gee uit die rykdom van sy genade aan ons hoop.  Almal van ons het die wette van God oortree, teen Hom gerebelleer, ons wou Hom nie dien nie, ons het almal gesondig – maar tog het God vir ons `n hoop in die hemel gebêre. 
Hoe het die duiwel ons nie afgetakel nie.  Hy het aan die deurposte van ons harte kom skrywe “Geen hoop”.  Dit sou tot in ewigheid so gebly het, as `n liefdevolle hand nie hisop geneem en hierdie swart bitterheid van wanhoop met die besprenkeling van bloed verwyder het nie.  Hoe verskriklik (dreadful) was ons toestand nie.  Geen Hoop.  Dit is om van selfmoord te pleeg.  Hoe het dit nie eentonig deur ons harte weerklink nie...geen hoop...geen hoop...geen hoop...  En toe kom geloof  en maak die hoop in ons harte wakker.
Ons hoop word aan die hemel verbind.
Kan die hemel bedoel wees vir mense soos ons??  Dit wil amper voorbarig klink of voel dat ek my oë na die hemel ophef en vir God Abba Vader sê.  Die kinders van God gaan nie hel toe nie, maar hemel toe.  Ons hoop is tot oorlopens toe vol van heerlikheid, oneindige heerlikheid.  Ons hoop is verbind aan die heerlikheid van Christus.  Ons hoop is om eendag ons Geliefde van aangesig tot aangesig te mag aanskou.  Ons hoop is Jesus Christus onse Here.
Ons hoop is deur God aan ons geopenbaar.
Hierdie hoop is so wonderlik dat geen mens dit kon uitdink nie.  Wie sou ooit kon dink, dat God Sy eie Seun sal stuur in die gedaante van `n mens om vir ons aan `n kruis te moet sterf.  Wie sou ooit kon dink dat die gekruisigde Jesus 3 dae in die graf sal wees en dan sal opstaan om die dood te vernietig.  Watter mens kon uitdink dat ons eendag by God in die hemel sal wees, dat ons soos Jesus sal wees?
Ons hoop het deur gehoor gekom.
Ons het nie daarna gesoek of daarvoor gewerk nie.  Ons hoop het gekom, deurdat ons daarvan gehoor het.  Ons het gehoor van die reddingswerk van God in Jesus, wat `n vertroue in ons gewek het.  Dit was nie met slim redenasies en debatte nie.  Toe ons die Evangelie gehoor het, het ons dit geglo. (Kol 11:5)
Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid.
Jes 55:3

Net deur die Woord te hoor word my vertroue in Christus gewek, en word ons gevul met `n blye versekering en `n toenemende liefde vir die Woord van die Here.
so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.
Jes 55:11




Ons hoop is `n buitengewone hoop.
Ons hoop op oorwinning.  Die kerk sal elke teenstander oorwin.  Die duiwel sal deur die kerk vertrap word.  Ons lewe sal nie in mislukking eindig nie, maar in die volle heerlikheid van ewige triomf.  We will overcome through the blood of the Lamb
Ons hoop is die heerlikste hoop.
Ons hoop nie net op oorwinning nie maar ons sal ook volmaak wees.
Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.
1Joh 3:2-3

Die jonger boeties gaan soos die Eersgebore Boetie wees.  Hoe sal God ons nie vereer nie, Hy sal ons bekroon!  Heilig, onskuldig, onbevlek en rein soos die Here Jesus self.  Ons sal nie eers meer `n geneigdheid he om sonde te doen nie.  Volmaak ten volle in `n sondelose bestaan of toestand.
Ons sal God nog meer intens lief he as wat ons Hom nou het.  Geen pyn, geen berou, geen verdriet, geen smart, niks wat ons aandag kan aftrek van God af nie.
Dit is ons hoop – oorwinning oor boosheid en volmaaktheid in alles wat goed is.
Ptg 9 Sept 2012.



No comments:

Post a Comment